Die joker is 'n speelkaart wat in die meeste moderne Franse pakke kaarte voorkom, benewens die vier standaardkleure (klawers, ruite, harte en skoppens). Van die tweede helfte van die 20ste eeu word hulle ook aangetref in Spaanse en Italiaanse pakke kaarte, buiten in pakke met 'n verminderde getal kaarte.

'n Italiaanse joker.

Die joker het tydens die Burgeroorlog in die VSA ontstaan en is gebruik in die kaartspeletjie euchre. Dit kom sedertdien in talle ander pakke speelkaarte voor, waar dit dikwels 'n wildekaart is, maar het ook ander funksies. 'n Wildekaart is in teenstelling enige kaart wat in die plek van 'n ander kaart gebruik kan word; dit hoef nie 'n joker te wees nie. In canasta kan enige 2 byvoorbeeld ook as 'n wildekaart gebruik word.

Oorsprong

wysig
 
Die Imperial Bower, die vroegste joker, deur Samuel Hart (omstreeks 1863).

Volgens die kaartspelkenner David Parlett is die joker in die 1850's spesifiek by 'n pak met 32 kaarte gevoeg vir die spel euchre.[1] Aanvanklik was daar egter geen joker in euchre nie.

Die joker word in 1868 die eerste keer genoem in 'n stel reëls waar dit 'n blanko kaart is wat nie eintlik bedoel was om mee te speel nie.[2] Dit het aanleiding gegee tot die spel "euchre met die joker", waar die joker die hoogste rang van alle kaarte het.[2] Dit moes egter al vroeër gebruik gewees het, want die term "Best Bower" kom voor in 'n satiriese stuk uit 1861 oor die Amerikaanse Burgeroorlog.[3] Verder kry Samuel Hart krediet daarvoor dat hy die eerste geïllustreerde "Best Bower"-kaart in 1863 laat druk het met die naam "Imperial Bower".[4][5]

Die term "joker" het in die laat 1860's begin verskyn, toe dit gedruk is met 'n nar aan die gesigkant. Die naam kom vermoedelik van juker, 'n ander naam vir euchre.[6][7]

In 1871 het een Britse vervaardiger, Charles Goodall, pakke kaarte met jokers gemaak vir die Amerikaanse mark.[8] Die eerste joker vir die Britse mark is in 1874 verkoop.[9] Italiane noem jokers "Jolly", want baie vroeë kaarte is "Jolly Joker" genoem.[10]

Die idee van 'n joker het later ook in poker verskyn, waar dit aanvanklik die "mistigris" genoem is.[11] Dit was omstreeks 1875, toe dit as 'n wildekaart gebruik is.[12]

Pakke met twee jokers het in die laat 1940's algemeen geraak vir die spel canasta.[13][14] Sedert die 1950's sluit Duitse en Oostenrykse pakke kaarte drie jokers in vir Duitse rummy. In Pole is die derde joker bekend as die "blou joker" omdat die Trefl Playing Card Company vroeër 'n monopolie gehad en alle derde jokers blou gemaak het. In Sleeswyk-Holstein het pakke kaarte vir die spel Zwickern uitgekom met ses jokers.[15]

Voorkoms

wysig
 
Drie jokers en vier ase deur die Trefl Playing Card Company van Pole met sy kenmerkende blou derde joker.

Jokers het nie 'n gestandaardiseerde voorkoms nie. Elke vervaardiger beeld dit anders uit en registreer hulle jokers as handelsmerke omdat dit unieke kunswerke kan bevat wat dikwels moderne kultuur uitbeeld.[16]

Die jokers word tradisioneel as narre uitgebeeld. Daar is gewoonlik twee in 'n pak, maar dit wissel. Die United States Playing Card Company (USPCC) sit byvoorbeeld net een joker in 'n pak.

Versameling

wysig

Die versameling van jokers is al lank gewild, maar sedert die ontstaan van die internet en sosiale media het dit 'n stokperdjie geword. Baie ongewone jokers is aanlyn te koop, terwyl ander aanlyn besigtig kan word.

Guinness World Records noem Denoto de Santis, 'n Italiaanse kulkunstenaar, se versameling die grootste ter wêreld.[17]

Gebruik in speletjies

wysig

Amerikaanse en Britse standaardpakke bevat gewoonlik twee jokers. In ander lande soos Duitsland is daar gewoonlik drie jokers in 'n pak. Die gebruik van die joker wissel baie. In sommige kaartspeletjies word dit glad nie gebruik nie. In ander, soos 'n variasie van euchre met 25 kaarte, word dit gebruik as die hoogste troefkaart en is dit dus een van die belangrikste kaarte. Die joker is dikwels 'n wildekaart wat in die plek van enige ander kaart gebruik kan word.

Verwysings

wysig
  1. Porter (2010), p. 205.
  2. 2,0 2,1 Hoyle 1868, p. 94.
  3. Faulkner 1861, p. 83.
  4. Dawson, Tom en Judy. (2014). The Hochman Encyclopedia of American Playing Cards. Ch. 5.
  5. Wintle, Simon. Samuel Hart at The World of Playing Cards. Besoek op 17 Julie 2015.
  6. US Playing Card Co. – A Brief History of Playing Cards (archive.org mirror)
  7. Beal, George (1975). Playing cards and their story. New York: Arco Publishing Comoany Inc. p. 58
  8. Wintle, Simon (10 April 2008). "The Evolution, History, and Imagery of Playing Cards". Collectors Weekly. Besoek op 2 Oktober 2014.
  9. Goodall, Michael. (2001). "The Origin of the First English Joker". The Playing-Card Vol. 29, p.244-246
  10. Anderson, Matthew. "The foreign words that seem like English - but aren't". BBC Culture. BBC Online. Besoek op 27 Januarie 2017.
  11. Parlett 1992, p. 191.
  12. Parlett, David (1990), The Oxford Guide to Card Games, Oxford University Press, p. 191, ISBN 0-19-214165-1, https://archive.org/details/oxfordguidetocar00parl/page/191 
  13. Powills, Dorothy. (1989). "A Voice From the Past". Chicago Playing Cards Collectors Bulletin. Vol. 36-3, p. 1809.
  14. Wintle, Simon. Canasta at The World of Playing Cards. Besoek op 17 Julie 2015.
  15. McLeod, John. Zwickern by pagat.com. Besoek op 17 Julie 2015.
  16. "playing card joker collection". dotpattern. 7 Junie 2003. Besoek op 31 Maart 2012.
  17. "Guinness World Records". 14 Februarie 2018. Besoek op 14 Februarie 2018.

Bibliografie

wysig
  • Porter, Ian (2010). "Classifying Non-standard Playing Cards" in The Playing-Card, Vol. 38, No. 3 (Jan.-Mrt. 2010). pp. 203–208. 1752-671X

Skakels

wysig