Saxenhof

beskermde gebou in Stellenbosch, Suid-Afrika

Die statige huis Saxenhof in Dorpstraat op Stellenbosch is ‘n goeie voorbeeld van ‘n gebou in die Georgiaanse styl.[1]

Die huis "Saxenhof" by Dorpstraat 159, Stellenbosch.

Ligging

wysig

Die huis is aan die oostelike punt van die straat by nommer 159, 33° 56′ 19.54″ suid en 18° 51′ 42.95″ oos.

Aanvanklike huis

wysig

Die erf waarop die huis staan, is in 1704 aan Pieter Andries Saxe toegeken en hy het kort daarna ‘n H-vormige huis in die Kaaps-Hollandse styl daarop laat bou. In die 18de eeu het die huis verskeie eienaars gehad, o.a. was dit in 1782 die kosterswoning. In 1833 word dit die eiendom van dr. Jacob Versfeld, die eerste dokter wat in Suid-Afrika opgelei is en wat het 54 jaar op Stellenbosch gepraktiseer het.

Verbouings

wysig

Toe dr. Johannes Henoch Neethling in 1889 die eienaar word, omskep hy die huis in ‘n aantreklike Georgiaanse dubbelverdieping woning. Die plafonne, voordeur en ‘n paar sy- en agtervensters van die oorspronklike huis het behoue gebly. Hy is ook verantwoordelik vir die aanbou van die opvallendste eienskap van die huis, naamlik die aantreklike Victoriaanse portiek en balkon met die fyn figuursaagwerk. Neethling was ‘n bekende dorpsfiguur en daarom het die gebou lank bekend gestaan as Neethling-huis.

Poort

wysig

Die meeste huise in die straat is direk teen mekaar en amper sonder stoep en voortuin gebou. Dikwels was daar ‘n mooi poort wat na die ruim agterplaas lei met die koetshuis en waenhuis. In baie gevalle het huise aan die suidekant (soos hierdie huis) van die straat se groentetuine en boorde vroeër tot teen die Eersterivier gestrek.

Monument

wysig

Historiese Huise van Suid-Afrika is die eienaar van hierdie huis wat in 1970 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is.

Verwysings

wysig
  1. "Saxenhof". sahris.sahra.org.za (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Julie 2024. Besoek op 9 Julie 2024.

Bronnelys

wysig
  • Burden, Matilda: 50 jaar – Historiese Huise 1906 – 2016. Stellenbosch: Historiese Huise van Suid-Afrika, 2016. ISBN 978-0-620-73074-7
  • Fransen, Hans: Dicover Historical Stellenbosch. Kaapstad: HAUM,1979. ISBN 0-7986-0366-6
  • Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, CalviniaColesbergUitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. ISBN 1-86842-191-0
  • Johnson Barker, Brian: Stellenbosch – place of gables, oaks & wine. Kaapstad: Struik, 1992. ISBN 1-86825-149-7
  • Oberholster, J.J.: Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972. ISBN 0-620-00191-7

Eksterne skakels

wysig