Gaan na inhoud

Grammofoonplaat

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die groewe van 'n vinielplaat onder die miskrokoop

'n Grammofoonplaat is 'n skyf waarop 'n geluidspoor volgens 'n beginsel wat in die tagtigerjare van die 19e eeu deur Emile Berliner ontwikkel is, vasgelê word. Na die Eerste Wêreldoorlog het die grammofoonplaat al hoe gewilder geraak omdat die gehalte deur die gebruik van elektroniese toestelle verbeter is.

Na die Tweede Wêreldoorlog het dieselfde gebeur toe skellakplate wat teen 78 omwentelinge per minuut draai, deur vinielplate wat teen 33 ⅓ en 45 omwentelinge per minuut draai, vervang is. Teen die einde van die vyftigerjare het die stereofoniese plaat in swang gekom. Kwadrofoniese opnames, wat in die 1970's hul verskyning gemaak het, het weens tegniese kwessies, mededingende formate en betreklik hoë pryse vir die benodigde hoëtrou-uitrusting nie groot aanklank in die hoofstroommark gevind nie.

Intussen is die vinielplaat as gevolg van digitalisering deur ander stoormedia soos die laserskyf verdring, maar bly steeds gewild as nisproduk.

Vervaardiging

[wysig | wysig bron]

Opnames vir 'n grammofoonplaat word gewoonlik in 'n spesiaal ingerigte ateljee gemaak. Musiek kan egter wel in 'n konsertsaal of selfs in die opelug opgeneem word. Wanneer verskillende mense by ʼn opname betrokke is, kan hul aandeel daarin afsonderlik of in groepe opgeneem en later tot 'n eenheid gemeng word. Opnames van ernstige musiek word meestal gemaak slegs wanneer byvoorbeeld die volle orkes of groep kunstenaars optree.

By byvoorbeeld musiekopnames word die klankgolwe meestal met behulp van twee of meer (selfs ʼn groot aantal) mikrofone geregistreer en op 'n mengbank in die bepaalde sterkteverhoudings deur 'n spesiale bandopnemer opgeneem. Die opnemer kan 16 klankspore op 'n band van ongeveer 5 cm breed vaslê, of 32 spore op 'n band van ongeveer 9 cm. Verskillende elemente van 'n musiekstuk word op die afsonderlike spore opgeneem, wat dit moontlik maak dat dieselfde musikant verskillende instrumente in dieselfde stuk kan bespeel.

Foute kan reggestel word deur net 'n bepaalde spoor terug te speel en weer op te neem. Uit die band met 16 of 32 spore word 'n produksieband met 2 klankspore (stereo) of met 1 klankspoor (mono) saamgestel. Die kanale word in die gewenste sterkteverhouding gemeng en terselfdertyd kan spesiale effekte soos eggo en weerklank bygevoeg word.

Die sny van die plaat

[wysig | wysig bron]

Met behulp van elektromagnetisme word die seine wat op die produksieband vasgelê is, in pulse omgesit wat ʼn groefnaald of -beiteltjie laat vibreer. Die beiteltjie, wat verwarm is, sny groewe in die laklaag van 'n plaat van ligte metaal. Monoplate word in dwarsregistrasie gesny en die diepte van die groef bly konstant, ongeveer 30 mikron (ᶙ). By stereoplate staan die kanale loodreg op mekaar en vorm 'n hoek van 450 met die plaatoppervlak.

Die Iinkerkanaal is in die binneste groefwand en die regterkanaal in die buitenste. By monoplate is die breedte van die groef (b) omtrent 60 ᶙ die hoek tussen die groefwande (a) 90˚ en die afrondingstraal van die groefbodem (r) 7,5 ᶙ. By stereoplate wissel die breedte en die diepte van die groewe. Die groefbreedte is minimaal 40 ᶙ, en die afrondingstraal van die groefbodem is 5 ᶙ. Daarom word 'n kleiner naald vir stereoplate as vir monoplate gebruik.

Naas die mikrogroef kan ook ʼn pikogroef met 'n minimale breedte van 25 ᶙ en waarvoor 'n spesiale naald nodig is, gebruik word. By langspeelplate is die spoed waarteen die plaat gesny word (die snelheid waarteen die beiteltjie tydens 'n omwenteling na die middel beweeg), en daarom die afstand tussen die groewe, beheerbaar. Die afstand hang af van die insnyding van die beiteltjie, of die sterkte van die drukking. Dit word Rheinsehe Füllsehrift genoem. Hierdeur kan die plaatoppervlakte maksimaal benut word (langspeelplaat).

Die afstand tussen die rande van 2 groewe is minimaal10 ᶙ. As die oorspronklike sterkteverhouding behou word, sal groewe van 'n harde, lae noot so groot word dat ernstige vervorming veroorsaak word, wat sal meebring dat die naald uit die groef spring. Daarom word die lae note in die klanksein wat na die naald gevoer word, verswak en later weer deur 'n versterker versterk. In teenstelling hiermee word hoë note ekstra versterk ingesny en verswak weergegee sodat die geruis van die plaat nie die klank verdring nie. Die geruis word deur die korrelrige struktuur van die plaat veroorsaak. Die mate van versterking en verswakking word deur die noot wat ingesny is en die noot wat gespeel word, bepaal.

Vervaardiging

[wysig | wysig bron]

Van die gesnyde lakplaat word 'n negatief, die meester, gemaak waarvan weer ʼn positiewe moederplaat gemaak word. Van die moederplaat word ʼn matrys van staal gemaak waarop die plate van poliviniel-asetaat en polivinielchloried gedruk word. Klein meganiese beskadigings kan deur 'n graveerder reggestel word. Die kontrole van die eindproduk word met die blote oog gedoen. Eers na die eerste plaat gedruk is, kan steekproewe gedoen word om vas te stel of daar enige defekte in die eerste opname was.

Danksy die tegniese ontwikkeling kan frekwensies van 20 tot 16 000 hertz (Hz) bereik word. Geruis en ander bygeluide is so ver op die agtergrond geskuif dat ʼn dinamiek (die verhouding van die swakste en die sterkste geluide wat weergegee word) van ongeveer 55 desibel (db) behaal word. Ter vergelyking kan genoem word 120 db in 'n konsertsaal gemeet word. Grammofoonplate slyt en beskadig maklik, en die gehalte neem af namate die grammofoonplaat gespeel word. Met die huidige tegniek is daar weinig aan te doen. Die registrasiemetode wat vir videoplate ontwikkel is, bied meer moontlikhede en dit kan met behulp van pulskode-modulasie ook vir musiek toegepas word.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die geskiedenis van die grammofoonplaat val in die algemeen saam met die van geluidregistrasie. Sedert Leon Scott in 1856 geluid meganies sigbaar gemaak het met sy fono-outograaf, is voortdurend uitvindings gedoen wat tot die ontstaan van die grammofoonplaat bygedra het. Die fonograaf is in 1877 deur Edison ontwikkel. Die instrument kon geluid deur diepteregistrasie reproduseer - 'n diep groet is deur 'n vibrerende naald in 'n silinder wat in die rondte draai, gesny.

Tien jaar later het die Amerikaans-Duitse uitvinder Emile Berliner (1851-1929) die silinder deur 'n plat skyf vervang en ook dwarsregistrasie in plaas van diepteregistrasie gebruik. Die geluidspaar is as 'n sywaartse uitwykingdiepte in 'n spiraalvormige groef ingesny. Die beginsel van die Berlinerskyf - die plat plaat – word nog steeds toegepas. Van die eerste platemaatskappye wat gestig is, was His Master's Voice en Telefunken. Na die Eerste Wêreldoorlog, toe die elektroniese versterker in gebruik gekom het, is die akoesties-meganiese registrasiemetodes geleidelik deur elektroniese met odes vervang. Daarmee kon frekwensies van tussen 50 en 5000 Hz vasgelê word. Die eerste platemaatskappye wat die moderne opnametegniek toegepas het, was die Columbia Phonograph Company en die Victor Talking Machine Co, wat in 1929 deur die Radio Corporation of America (RCA) oorgeneem is.

Die eerste plate het teen 78 omwentelinge per minuut gedraai. Hulle het 'n diameter van 30 cm gehad waarin slegs 4 groewe per millimeter gesny kon word. Die speelduur was daarom hoogstens 4 minute. Die oudste grammofoonplaat is waarskynlik die een waarop Emile Berliner die Onse Vader voordra. Die plaat word nou bewaar in die British Broadcasting Corporation (BBC) se plateversameling. Die ontwikkeling van 'n fyner plaatmateriaal, naamlik plastiek (geharde polivinielchloried, meestal kort viniel genoem), na die Tweede Wêreldoorlog, het dit moontlik gemaak om klankspore met kleiner uitwykings in te sny. Daardeur is die aantal groewe per millimeter vermeerder tot 12 en die speelsnelheid is in 1948 tot 45 en 33⅓ omwentelinge verminder.

Die 78-omwenteling-plate is vinnig deur 45- en 33⅓-omwenteling-plate vervang. Die 45-omwenteling-plate met 'n deursnee van 17 cm word as EP ("Extended Play"), met 'n speelduur van 8 minute aan elke kant) of as 'n solus-sewe (4 minute speelduur aan elke kant) bemark. Die 33⅓ ot langspeelplate het ʼn diameter van 17,5 of 30 cm. Die 30-cm-plaat, wat verreweg die meeste gebruik word, het 'n speelduur van 15 tot maksimaal 50 minute per kant. Sedert 1958 is die mono-langspeelplate verdring deur die stereoplate, terwyl die solus-sewe steeds as monoplate bemark word. Daar is ook 16⅓-omwenteling-plate, maar dit word net vir spraak gebruik.

In die vroeë 1970's het 'n beperkte mark vir kwadrofoniese plate ontstaan, maar ten einde die gewenste kwadrofoniese effek te verkry, moes spesiale apparaat gebruik word wat destyds met ander gesogte verbruiksgoedere, van motors tot wasmasjiene, moes meeding en vir die meeste huishoudings gladweg nie bekostigbaar was nie. Die mark vir kwadrofoniese musiek is daarnaas deur tegniese kwessies en onversoenbare mededingende formate geknel. Eers in die vroeë 21ste eeu is omringklank as formaat hervat met die ontwikkeling van nuwe digitale media soos laserskyf (DTS-CD), Super Audio CD, DVD Oudio en Blu-ray. Terselfdertyd het die mark vir vinielplate 'n herlewing getoon - sowel in oudiofiele kringe as in die hoofstroommark.[1]

Platenywerheid

[wysig | wysig bron]

Tydens die Eerste Wêreldoorlog is die grammofoonplaat as 'n massamedium in Amerika ontwikkel. Die opkoms van die "ragtime" het ʼn dans-manie veroorsaak waardeur die verkope van plate en platespelers verveelvoudig het. In 1920 is die eerste goue plaat aan die orkesleier Paul Whiteman (1890- 1967) uitgereik vir die verkoop van 1 miljoen eksemplare van Whispering.  In Europa was die ontwikkeling in die twintigerjare geleideliker.

In Engeland en Duitsland is veral plate met ernstige musiek uitgereik en die kopers daarvan se getalle het nie so geweldig toegeneem nie. Hoewel die tegniese moontlikhede deur die ontwikkeling van elektroniese toestelle in die dertigerjare uitgebrei het, het die opkoms van die radio die platenywerheid gevoelige slae toegedien. Baie platemaatskappye het in die tyd saamgesmelt en verskeie groot maatskappye het ontstaan: Columbia Records (1938), wat ʼn onderdeel van Columbia Broadcasting System (CBS) was, en RCA/Victor (1929) in Amerika, en Electric and Musical Industries (EMI, 1931) in Engeland.

Net die Duitse maatskappy Deutsche Grammophon Gesellschaft (DGG), met sy uitvoermerk Polydor, het selfstandig gebly. Na die Tweede Wêreldoorlog het die radio sy negatiewe invloed op die platenywerheid verloor en die uitsendings van nuwe opnames oor die radio het verkope begin stimuleer. Die gehalte van die grammofoonplaat is ingrypend verbeter deur 'n uitvinding van die Engelse maatskappy Decca, wat sedert 1946 groot sukses met sy "full frequency range recording" (ffrr) behaal het. In 1948 het Columbia sy eerste langspeelplaat uitgereik, en RCA/Victor het die solus-sewe vrygestel. Die ontwikkeling van die bandopnemer teen die einde van die veertigerjare het die opneem van musiek baie vereenvoudig.

Met die bandopnemer kan musiek nou goedkoper opgeneem word en ʼn belangstelling vir kamermusiek uit die Barok, eietydse werke en uitvoerings van gewilde melodieë het ontwikkel. Die stereoplaat het ʼn nuwe oplewing in die mark vir ernstige musiek veroorsaak omdat dit die gehalte van die opnames so verbeter het. 'n Groot deurbraak, veral wat die aanhang van die jeug betref, is deur die opkoms van rock-musiek gemaak. Elvis Presley (1935- 1977) het in 1955 'n kontrak vir 40 000 dollar met RCA/Victor aangegaan en dit het die verkope van RCA-plate met 50 % laat styg. Daar is gemiddeld 50000 solus-seweplate en 8000 langspelers van Elvis Presley daagliks verkoop. Sy lang speler Heartbreak Hotel is een van die beste blitsverkopers in die geskiedenis, wat 'n omset van 155 000 eksemplare in 10 weke gehad het.

Na sy sukses het tallose opnames van solosangers en groepe in die rock-genre groot inslag by die jeug gevind. Die geweldige gewildheid van Brittanje se Beatles tussen 1963 en 1968 het gelei tot die verkoop van plate ter waarde van £70 000 000. Popmusiek het die totale omset van plate die hoogtes laat inskiet, terwyl ernstige musiek 'n steeds kleiner persentasie van die platenywerheid verteenwoordig het.

Radio

[wysig | wysig bron]

Die radio as reklamemedium is van groot belang vir die platebedryf. Dit het aanleiding gegee, heel eerste in Amerika, tot die ontwikkeling van die handelsradio, wat onafhanklik van lede of die owerheid deur adverteerders of platemaatskappye gefinansier is. In Wes-Europa, waar reklame aanvanklik nie deur gevestigde stasies aanvaar is nie, het die sogenaamde roofsenders ontstaan. Programme is vanaf radioskepe langs die kuste maar buite die territoriale grense uitgesaai. Reklame is vir spesifieke plate gemaak en daar is gewoonlik weeklikse trefferparades gehou, waartydens die plate wat die beste verkoop het, gespeel is. Nommer een op die lys het as die trefter bekend gestaan.

Die gebruik geld vandag nog. Daar was gou sprake van korrupsie en omkopery en maatskappye kon 'n "plek" vir hulle plate op die trefferslys koop. Baie platejoggies het naas hulle beroepe aandele in die produksie of verspreiding van plate gehad, wat die korrupsie aangemoedig het. In die sestigerjare het daar verset gekom teen die mag en die wins van die groot maatskappye. Onwettige langspelers van bekende kunstenaars waarvoor geen kopiereg betaal is nie, is uitgereik. Die "bootlegs" (wit plate) was baie goedkoper, maar die gehalte het veel te wense oorgelaat. Vir die betrokke maatskappye het dit bloot ʼn verskerping van wedywering beteken, en hulle het opnames van bekende kunstenaars ook goedkoper begin verkoop.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
Hoofbron